Kategorie: Republiek

  • Wat dink u van ‘republiek’?

    Republiek. Ek hou van die klank van daardie woord. Dit beteken mense kan vry leef, … Party woorde gee jou ‘n gevoel. Republiek is een van daardie woorde wat my keel laat toetrek – dieselfde soort gevoel wat ‘n man kry wanneer sy baba sy eerste treë gee… Party woorde gee jou ‘n gevoel wat jou hart warm maak. Republiek is een van daardie woorde. (Kol. Davy Crockett soos deur John Wayne vertolk in The Alamo, ‘n rolprent uit 1960.)

    In ‘n kort hoorbeeld het ons vyf manne by die Afrikaanse Protestantse Akademie gevra: Wat dink u van ‘republiek’? In die agtergrond hoor u Die Lied van Jong Suid-Afrika, ʼn gedig deur Eitemal (Wilhelm Jacobus du Plooy Erlank) met toonsetting van Hugo Gutsche, soos aangepas deur Philip McLachlan en verwerk deur Dirkie de Villiers. Die orrelbegeleiding en sang van die aanwesige gehoor is tydens ‘n feesviering by die Voortrekkermonument opgeneem.

    Republiek kom van die Latynse woorde res publica, wat die saak van die volk oftewel die openbare saak beteken. In ‘n republiek word die staatshoof deur die volk verkies in teenstelling met ‘n monargie waar die staatshoof deur erfopvolging aan bewind kom. ‘n Monargie het onderdane, terwyl ‘n republiek eerder burgers het. Daarby geld in ʼn republiek dat daar grondwetlike beperking is op die magte van leiers wat aanspreeklik is teenoor die volk. By ‘n suiwer demokrasie – Grieks demos (volk) en kratos (heerskappy) – heers 50% plus 1 van die volk oor 100% van die volk, sonder grondwetlike beperking. Trouens, ‘n treffende allegorie oor die verskil tussen ʼn demokrasie en republiek word dikwels met Benjamin Franklin vereenselwig: Demokrasie is twee wolwe en ‘n lam wat stem oor wat vir middagete geëet gaan word. Vryheid [‘n Vrye republiek] is ‘n goedbewapende lam wat die stemming betwis.

    Republikeinse verteenwoordigende regering behels tegelyk drie elemente:

    (1) afwenteling na die laagste moontlike besluitnemingsvlak,

    (2) toenemende erns in soeke na konsensus na mate uitkringende gesagstrukture wyer verteenwoordiging inhou, en

    (3) die reg van nouer gesagstrukture om van wyer gesagstrukture af te stig, wanneer daardie wyer gesagstrukture nie konsensus kan bewerkstellig nie, en die meerderheid teen die belange van die minderheid optree.

    Vanaf nouste na wydste bestuursvlakke is daar sprake van plaaslike funksionele selfbestuur, kantonnale distriksmagte, federale provinsiale of deelstaatmagte en konfederale magte tussen buurstate aan mekaar verbonde. Soos mnr Flip Buys in sy boek Die Pad na Selfbestuur oortuigend verduidelik, veral ten opsigte van plaaslike outonomie, word gemeenskaplike dienste en kulturele uitlewing eerstens plaaslik toegeëien (van onder na bo) eerder as van wyer gesag na nouer gesag toegeken (van bo na onder). Sodoende word ‘n werklikheid eers geskep wat later tot erkenning kan lei.

    Elke plaaslike gemeenskap, selfs in ‘n kultureel-homogene burgery, verskil tot ʼn mindere of meerdere mate van ander gemeenskappe in dieselfde land. Dit kan sake betrek soos verskille in plaaslike omstandighede bv fisieke omgewing naby die kus of in die berge of op die vlaktes, of in half-tropiese oerwoude of in dorre half-woestyne, of verskille in selfverwesenliking, bv verskillende taaldialekte, of verskillende ekonomiese vlakke/bedrywighede. Dit is veral in ‘n republiek met afgewentelde magstruktuur wat die eiesoortigheid van verskillende gemeenskappe by uitstek tot sy reg kom.

    Wanneer ek u vra om aan Suid-Afrika te dink, wil ek graag hê dat u aan Suid-Afrika moet dink as hierdie pragtige land waarin ons woon; die land wat ons so liefhet; die land wat ons van voorouers geërf het wat nie alleen vir hom geveg het nie, maar ook deur geslagte wat oor 300 jaar strek vir [‘n Republiek van] Suid-Afrika gewerk het. (Dr HF Verwoerd, tydens republiekwording op 31 Mei 1961.)